top of page

Verlief op die liefde!

Writer's picture: Nita FourieNita Fourie

In Valentynsmaand is daar oral hartjies, rooi rose en vrolike liefdesverhale met gelukkige eindes. Jy kan nie anders as om dit raak te sien nie, of jy met die gebruike van 14 Februarie saamstem of nie.  Die behoefte om liefde te gee en te ontvang, is ‘n essensiële deel van ons menswees.


Uit my skoolhou dae onthou ek goed hoe die tieners  verlief was op die liefde. Daar is hartjies, tuitlippies en voorletters op elke pennesakkie. Dikwels is die voorletters doodgekrap na die naweek se partytjie. Dan is daar ‘n nuwe ridder op die wit perd. Die keer is dit ware liefde! So ‘n verliefdheid is pragtig, al hou dit nie noodwendig lank nie.


Daar is mooi liefdesverhale uit die geskiedenis. Dink maar aan Napoleon en sy Josephine. Daar was storms en hulle is later geskei, maar daar word vertel dat hy haar tot op sy sterfbed liefgehad het.


In die letterkunde noem Macbeth sy geliefde Lady Macbeth “my partner in greatness”, maar wanneer hulle lewens verwoes is deur boosheid, is hy ongeerg oor haar dood. Romeo en Juliette se se jong liefde bly seker een van die bekendste liefdestories.


Vir my is een van die mooiste liefdesverhale opgeteken in die lirieke van Laurika Rauch se Bloekompraatjies. Die geliefde wens dat hulle eendag  na hierdie aardse lewe, sal terugkom as twee bloekomsade wat langs mekaar in die Karoo groei. So sal die twee bome se takke steeds aan mekaar streel, terwyl hulle bloekomstories vertel. Hoe mooi is dit!


Ware langdurende, romantiese liefde is nie vir almal beskore nie. Ons leef in ‘n gebroke wêreld. Dit beteken nie dat jy nie kan deel in die feestelikheid van die Februarie –vreugde nie. Bederf jouself met iets moois! Dek ‘n tafel vir jou mense  of deel iewers laventelbossies uit waar jy iemand laat glimlag. Om uit te reik na iemand, lig jou eie gemoed. Ons weet mos laventel bring troos en hoop.


Kom ons speel saam in die maand van die liefde. Wees gaaf met jouself en ander. Al het jy dalk nie meer ‘n naam op jou penneskkie nie. Daar is altyd ‘n rede om die lewe te vier!  Soms moet jy net harder soek.





4 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


bottom of page