top of page

The Art of Giving / Die kuns om te gee

Writer's picture: Nita FourieNita Fourie

Die jaar spoed verby! Kersversierings is reeds in die winkels. Oral is daar markte met Kersgeskenke. Ons wil almal graag iets vir iemand gee, maar dis moeilike ekonomiese tye. Baie mense leef minimalisties en wil nie goed opgaar nie. Om die regte geskenk te kies, word stresvol. Dit waaraan jy jou swaarverdiende geld spandeer, is dalk iets waarvan die ontvanger glad nie hou nie. Duurder geskenke beteken beslis ook nie altyd meer blydskap nie!


Om te gee en te ontvang, is 'n kuns. Vir my het 'n geskenk net een vereiste - dit moet twee keer vreugde bring. Vir die een wat dit gee en vir die een wat dit ontvang.

Daar is wêreldwyd 'n terugkeer na handgemaakte geskenke. Mense hekel en brei vir mekaar! Mense waardeer jou tyd dikwels meer as jou geld. Gee gerus van die geskenke wat jy hier by die werkswinkels leer maak het. Dis stylvol en tydloos. Die laventelvriendinne het my deur die jare met kosbare handwerk bederf: laventelvatlappies, teenette, konfyt, sakkies, en ander kunswerke. Selfs 'n gehekelde trui van 'n tannie wie se vingers al krom is. Dis hartsgeskenke!


Ons het nie almal sulke talente nie. Maar ons het almal iets om te bied. 'n Koppie tee, of n glas wyn vir 'n vriendin wat 'n oor nodig het, is ook 'n geskenk. 'n Drukkie en trooswoorde na 'n vrot eksamen kan geld nie koop nie. Maak jou lysie vir wie jy wat wil gee en gee, al is dit iets wat nie toegedraai kan word nie. Jy sal verstom staan oor hoe goed jy self sal voel oor dit wat jy gee.

Begin eers by jouself. Werk aan jouself, maak tyd vir lekker dinge, sif jou gedagtes en snuif jou laventel. Eers as jy op 'n goeie plek is, kan jy "gifts of the heart, mind and spirit" gee.

As mooi geskenke deel is van jou liefdestaal, gaan jy beslis nie tevrede wees met 'n koppie tee en 'n drukkie nie. Keurig toegedraaide pakkies dra by tot die feestelikheid en die opwinding van die tyd. Dalk is 'n uitspattige geskenk net wat jy nodig het, om weer wip in jou stap te sit!


Ons leef net eenkeer, gaan groot met dit wat jy gee.


Kontak my gerus as jy die Purple Posy winkeltjie wil besoek vir aankope. Of koop 'n geskenkbewys wat jou begroting pas. Kersverpakkings kan bestel word.




28 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page