Pasop vir 'n vriendskap met 'n haas!
Updated: Jun 21, 2024
My laventelland was verwoes en verniel. Honderde plante is dood! Dit het alles begin by verkeerde vriende...
In 2019 het die oulike, wollerige diertjies van êrens af hier aangekom... hase, eintlik konyne wat seker eens op 'n tyd iemand se troeteldiere was. Hulle was vir my baie oulik, al wippende deur die laventel. In my kop was daar pragtige Beatrix Potter prentjies. Hulle het mak geword en ek het hulle name gegee. Later was ons goeie vriende. Vlekkie was die swart en wit Casinova wat die jong wyfies betower het. Min het ek geweet sy nageslag sal groter wees as die van die Bybel se Abraham.
Ek was aanvanklik nie bekommerd dat hulle skade sou doen nie, want hulle het nie juis laventel geëet nie. Daar was baie ander kos.
Maar toe kom die probleme...
![](https://static.wixstatic.com/media/f8f256_11c6130337b64c419101a5a6f89dd068~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_550,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/f8f256_11c6130337b64c419101a5a6f89dd068~mv2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/f8f256_4f2e42ec274e48ec848179529e41328d~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_551,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/f8f256_4f2e42ec274e48ec848179529e41328d~mv2.jpg)
Die drie Great Danes was uitgekuier met die ongenooide gaste en het hulle begin verjaag, deur die laventel dat jy net takke hoor breek. My liewe Leon sit hekke op en span die land af dat sodat die honde nie daar kan kom nie. Vrede in die Potter paradys.
En toe kom ek agter my laventel begin stuk-stuk doodgaan. Vlekkie en sy familie se behuisingsnood het my probleem geword. Hulle het tonnels onder my plante gegrawe. Dit het die wortels ontbloot en die plante laat vrek.
![](https://static.wixstatic.com/media/f8f256_a5c3717e6dc44716b999ebb975bd3f35~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_1307,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/f8f256_a5c3717e6dc44716b999ebb975bd3f35~mv2.jpg)
Ons het vinnig opgetree en die hase is verwilder en geskuif. Tog het die laventel aanhou vrek. Ek het kenners geraadpleeg, grond laat ontleed, gehuil en gebid. Die vermoede was dat die hase se uriensuur kon bydra tot die probleem.
Ek het ekstra werkers ingekry, dooie plante is uitgesny en vragte dooie laventel is weggery. Die dooie plantmateriaal het die volgende plaag gelok - miere en termiete. Weer was ek beïndruk deur kundige wetenskaplikes wat kon raad gee.
Stadig maar seker het ons die probleem gewen. Ons het meer as 'n duisend nuwe plante in die Dentata afdeling ingeplant. Die Margaret Robberts het minder skade gehad. Die nuwe plante groei en blom pragtig. Dit was 'n geleentheid vir goeie kompos, versorging en groei. Die blomme het mettertyd tot hulle volle pers glorie herstel.
Nou kies ek my vriende beter. Die kiewiet en haar kroos is welkom. Die nagapies mag oorbly. Die tarentale is goeie gaste, maar moet hulle ook nie te tuis maak nie. Die klein tinktinkies, skoenlappers en bye rond soos altyd die pers prentjie af.
Die lieflike laventel is weer reg vir laventelpret. Kom kuier saam!
Comentários