Ons is uit die blokke vir 2024!
Vir baie mense is die nuwe jaar 'n goeie tyd om nuwe gewoontes te vorm en verlede jaar weg te vee. Dit is altyd lekker om skoon en vars te begin!
Ek is 'n groot voorstaander van Nuwejaarsvoornemens. Maar nie lawwe, onmoontlike goed soos, " Ek gaan nooit weer verkeerd eet en net leef van groente en water nie." Vir my is dit 'n tyd van refleksie. Omdat ek 'n pen-en-papier mens is, het ek 'n Nuwejaarsboekie waarin ek elke jaar gedagtes of planne neerpen. Dis lekker om te sien hoe ek gegroei het, gefaal het of van plan verander het. Dit maak my ook altyd dankbaar oor my lewe!
Ek kies graag 'n woord en/of 'n tema vir die jaar. Verlede jaar was my woord "verwondering". Daar is soveel klein ( en groot) dinge wat jou asem wegslaan van mooiheid, goedheid of Genade. Lekker om dit raak te sien!
Hierdie jaar is my woord "luister". Dis 'n kuns om met aandag te luister. Ek gaan probeer! Nie net na die mense in my lewe nie, maar ook na ander dinge. Die stem van stilte, intuïsie, natuurgeluide, die Gees. Na jou lyf, rus as jy moet, lag uit jou maag en leef!
Hierdie is 'n paar van my idees. Laat weet gerus hoe pak jy die jaar aan. Ons leer mos graag bymekaar.
Mag jou Nuwejaarsvoornemens nie net nog 'n doen-lysie word nie. Jy het nie meer druk en spanning nodig nie.
Ek hoop ek sien al die Purple Posy vriendinne hierdie jaar vir nog laventelpret. Onthou ek is ook beskikbaar as geregistreerde lewensafrigter vir groep- of privaatsessies. Die kursusse vir persoonlike ontwikkeling kry baie goeie terugvoer. Ek stap graag die pad saam met jou, jou kollegas of jou kind.
" You have brains in your head. You have feet in your shoes. You can steer yourself any direction you choose. "
Dr Seuss
![](https://static.wixstatic.com/media/ca638f_708d44fd71e44631a9ea2b0ef85ae46e~mv2.jpg/v1/fill/w_960,h_720,al_c,q_85,enc_auto/ca638f_708d44fd71e44631a9ea2b0ef85ae46e~mv2.jpg)
Commentaires