top of page

Ode aan my oupa

Writer's picture: Nita FourieNita Fourie

“Every human being on this earth battles to master the art of living, as the art of living is the most difficult of all the arts”

Hierdie wyse woorde staan voor in ‘n baie ou boek wat my oorlede oupa vir my gegee het toe ek so vier of vyf jaar oud was. Bietjie diep vir ‘n vyfjarige sou ek dink! My oupa het graag vendusies toe gegaan en dan het hy vir my goeters gekoop. As my ouma raas oor die nonsens het hy trots vertel wat ‘n winskoop dit was: “ Jy kan dit nie maak daarvoor nie!” Hy was enige smous se droom. So het hy vir my stapels boeke gekoop. Wonderlike klassieke ou stories, ook digbundels. As my ouma sê, “Die kind kan nie eers lees nie,” het hy gesê, “Maar sy gaan mos nog leer!” Ek onthou goed hoe ek die boeke gepak het as trappies om bo in my suster se kas by te kom. Ek het wel leer lees en die wonderwêreld van boeke ontdek.


“… the art of living is the most difficult of all the arts.”


Hierdie jaar het ek weer bewus geword daarvan hoe moeilik dit soms is om regtig voluit te leef. Mense kry swaar en 2024 was nie vir almal maklik nie. Ons sukkel om positief te bly. As kommer en stres jou oorweldig, is dit moeilik om kreatief te wees en vreugde te vind.


Ons staan aan die einde van die jaar. Haal asem. Put inspirasie uit jou laventel wat onder moeilike omstandighede aanhou blom. Gebruik dit om jou swaar gemoed te lig.


My oupa het my lewe geraak. Boeke is deel van my menswees. Hy is oorlede toe ek nege jaar oud was. Hy het my lewe gevorm, sonder dat hy dit geweet het. Sy boeke is vandag nog in ons huis. Ek het grootgeword met stories.


Ons almal raak mekaar. Wat los jy? Waarvoor wil jy onthou word as ouer, as vrou of as unieke mens met ‘n spesifieke lewensdoel?


Snuif jou laventel. Verdryf die stress. Doen lekker dinge en oefen die kuns om regtig te leef! Die feestyd wag!




27 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


Guest
Oct 30, 2024

Hi Nita, Ja, en 'the art of living' raak moeiliker met die ouderdom en siekte. Dokter het my slaappille gegee toe ek gekla het ek kan nie slaap nie. Maar ek hou nie van die goed nie, want dit smokkel met my brein! Nou drie nagte my chamomile tee gedrink en bossie laventel by my bed gehou om te snuif. Kon toe darem aan die slaap kom. ek is seker dit gaan net beter gaan as ek daarmee volhou. Mooiste dag vir jou en liefdegroete. Joke

Like
bottom of page