Laventel van toeka tot nou...
'n Vriendin gee nou die dag vir my die advertensie uit 'n ou tydskrif toe sy haar huis oppak om na baie jare te trek. Yardley's Old English Lavender! As jong dogtertjie was dit my eerste kontak met laventel. Ek kon doodstil sit en met bewondering kyk as my ouma haar bolla losmaak en dan haar donker hare ( met min grys!) met 'n pragtige silwer borsel, borsel. Oor en oor met egalige hale. Daarna is die lang hare weer sag gerol en opgebind. Dan kom die botteltjie Old English Lavender uit en word 'n druppel agter elke oor gesit. En een druppel vir die mooi kantsakdoekie wat in haar voorskootsak bly.
Baie Purple Posy vriendinne het al soortgelyke herinneringe gedeel. Daar is 'n ou wêreldse sjarme aan die pers blommetjie. Dit laat ons nostalgies terugdink aan geliefdes, warm harte, familie kuiers en gelukkige tye.
Die bekende geur, medisinale waarde en pers prag, het laventel deur die jare die liefling in die kruietuin gemaak. Die assosiasie met Victoriaanse Europa teken 'n romantiese prentjie.
Deur die eeue is baie kwaliteite ( waar en soms net verbeeldingryk) aan laventel toegedig. Gedurende die Swart Dood het grafrowers hulself beskerm deur met laventelasyn te was. Ons weet vandag dat laventel ontsmet. Natuurlik was die pers blom ook geassosieer met liefde. 'n Jong dame wat wou weet wie haar ridder op 'n wit perd sou wees, het 'n brousel van laventeltee gedrink en dan met volmaan van die man gedroom! Meisies het laventeltakkies onder 'n geliefde se kussing weggesteek en gewag dat hy, half bedwelm, ewige trou sou beloof.
Ek kan ongelukkig nie waarborg dat my laventel trouklokke sal laat lui nie. Maar ek weet dat tyd hier tussen die blomme beslis rustigheid en kalmte kan bring. Ek sien die verskil wat Purple Posy se Stress Coaching maak. Dit is nie nodig om in die greep van die stresmonster vasgevang te bly nie.
Omring jou met die geur van laventel, haal asem, ontspan en bou aan kosbare herinneringe saam met jou mense.
Commentaires