top of page

Kry  ‘n luister-gesig!

Writer's picture: Nita FourieNita Fourie

Ek kies elke jaar ‘n woord as riglyn vir die jaar.  Verlede jaar was dit luister. Na refleksie moet ek ongelukkig bieg dat my uitslae hieroor nie so goed soos die goeie matriekuitslae lyk nie. Ek het nie met onderskeiding geslaag nie. Inteendeel, ek moet my luisterjaar oordoen. Gelukkig bring elke jaar ‘n kans om oor te begin. Nou probeer ek van voor af om die kuns van luister te bemeester.

 

Luister na jou mense


Toe ons wyse Brenden-kind klein was, het hy eenkeer ‘n kleuterskool staaltjie vertel, terwyl ek besig was met werksake. Ek het met een oor geluister en nou en dan die regte geluide gemaak.  Skielik het hy gestop en gesê, “ Mamma, jy het nie ‘n luistergesig nie!” Hy het sy handjies op my wange gesit en my gesig gedraai dat ek hom vol in die oë moes kyk. Dit bly my by. Ons moet voluit luister na ons mense om regtig te kan hoor en te kan interpreteer wat jy hoor.


Antoinette Pienaar sê in een van haar Bruis video’s dat dit ‘n voorreg is as iemand jou met sy/haar storie vertrou. Ek stem saam. Maak jou hart oop vir hulle waarheid, soos hulle dit sien.  Luister net, sonder om hulle te verskrik met jou opinie of oordeel.  Natuurlik hoef jy nie elke dag na elke Jan Rap se gekla en gekerm te luister nie. Mag jy die gawe van onderskeiding hê om te weet  wanneer die gesprek ‘n luistergesig vra.


Luister na jouself


Die meeste van ons gesprekke is in ons koppe. Hoe praat jy met jouself? Wat  is jou reaksie as jy skielik jou refleksie in ‘n winkelvenster sien? “ Kyk hoe dik is ek!” of dalk “Ag nee, ek beter iets aan myself begin doen!”.  Die meeste reaksies is negatief. Probeer om hierdie jaar nie jou eie vyand te wees nie. Praat met jouself soos wat jy met ‘n vriendin sal praat. Jy sal nooit vir haar sê sy is dik nie. Positiewe gesprekke met jouself lig jou gemoed. Sif jou gedagtes!


Luister na jou lyf. Rus as jy moet. Eet beter as jy weet dis nodig. Maak vrede met die dinge wat jy nie kan verander nie. Ons weet al hierdie goed. Dis moeilik, maar dalk kan ons groei in die proses na aanvaarding. Gebruik jou laventel om te ontspan. Kalmte help om weer die groter prentjie te sien. Dit maak dit ook makliker om die mooi rondom jou raak te sien. In die stilte is jy dalk meer ontvanklik vir die stem van die Skepper.


Luister na Moeder Natuur


Ons mense het die moeder se kop deurmekaar gekrap.  Ek sien dit hier in my Purple Posy laventelwêreld. Eers het hulle baie swaar gekry met  ongekende hitte, toe ‘n haelstorm wat alles platgeslaan het en nou reën dit aanmekaar. Nie ideale omstandighede nie, maar die pers blommetjies lig hulle koppe op en begin weer blom. Binnekort het ons  baie laventelbossies wat vreugde bring.


Moeder Natuur is verward en gewip vir ons. Jy weet as jou ma gewip is, moet jy wys jy doen iets om reg te maak wat jy verbrou het. Daarom doen ek weg met plastieksakkies in die Purple Posy winkel. Bring jou eie sak  of gebruik n papiersak. As ons almal klein veranderinge maak, kan dit ‘n groot impak hê.


Ek doen my luisterjaar oor. Tog hang my kop nie in skaamte nie. Ek het nie gefaal nie, ek wil net nog verbeter.  Ek weet om te leer, is om te leef! Ek probeer weer.


Kom kuier tussen laventelgeure. Bring jou stories, ek maak vir jou ‘n luistergesig!

 




30 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


Carli
Jan 19

Woorde wat my laat regop sit en luister!

Like
bottom of page