top of page

Februarie is die maand van liefde!

Writer's picture: Nita FourieNita Fourie

In 'n volmaakte wêreld is elke pot 'n pragtige Le Creuset weergawe met 'n deksel wat perfek pas. Staar geliefdes vir ewig in mekaar se blink oë, onder die invloed van Cupid se pyl.


Die realiteit is ongelukkig veel anders. Huwelike is dikwels hartseer, mense is bitter eensaam en baie soek lewenslank na die perfekte een. Die deksel wat die pot pas!


In 'n omvattende Harvard studie is gevind dat geld, status, geleerdheid en selfs skoonheid nie langdurige geluk bring nie. Die enkele ding wat gelukkige mense in gemeen het, is goeie verhoudings. Nie noodwendig net die verhouding met 'n lewensmaat nie, maar ook met  familie, kollegas, mense in jou dag, soos die petroljoggie, winkelier en haarkapper. Jou verhouding met diere kan ook bydra tot jou geluk. Lees gerus meer hieroor in Waldinger en Schulz se boek The Good Life.


Dit is wel so dat geluk van binne kom. Daarom begin jy eers by die verhouding met jouself. Anders gaan die lieflike Romeo en sy deftige familie jou gou irriteer.


Leo Buscaglia (my gunsteling skrywer) sê 'n liefdevolle lewe moet aangeleer word. Jy kan net gee wat jy het. As jy vol kwaad en negatiwiteit is, is dit wat jy gee. Daarom moet ons aanhou werk aan ons eie kwaliteite, vrede, geduld, empatie, kalmte.


Natuurlik speel laventel as stresverligter weer 'n rol. Gebruik dit om jou stresvlakke te beheer, sodat jy met kalmte die mooi in die verhoudings in jou lewe kan ontgin. Laat gaan as jy moet.


Deur die eeue is laventel gesien in liefdesrituele. Dit simboliseer toewyding, volharding, rustigheid en troos. Laventelstaffies is gebruik om onheil te verdryf!


Koester jouself, jou mense en jou diere in hierdie maand van die liefde. Vier dit met vars laventelgeure, sjampanje en dit wat huppel in jou stap sit. Ons weet mos foelie kan ook werk vir 'n pot sonder 'n deksel. Perfeksie bestaan dalk nie. Maak 'n plan en leef dankbaar!   





42 views0 comments

Recent Posts

See All

留言


bottom of page