top of page

Die bekoring van seisoene

Writer's picture: Nita FourieNita Fourie

Seisoene is soos die padstal op 'n vervelige lang pad. Dit breek die eentonigheid van tyd en gee jou iets om na uit te sien ... of nie.


In Julie, veral na die onlangse koue, verlang baie van ons na die somer. Soms net om dan weer te kla oor die hitte...


My skoonpa was 'n boer en het altyd gesê die koue is goed, want dit maak die "peste" dood en gee die veld kans om te rus. Winter is inderdaad nuttig en word gesien as die seisoen van herstel en voorbereiding op nuwe groei wat wag.


Hier by Purple Posy Coaching is dit 'n tyd vir refleksie. Ons het 'n heerlike winterfees gehou (nogal met Turkish Delight laventelkoek) en besin oor wat belangrik is op ons prioriteitslysie of nie. Net soos die groot ou Witstinkhoutboom sy blare afgooi om plek te maak vir nuwe groei, het ons ook soms 'n paar stukke bagasie wat ons kan laat val. So kan ons plek maak vir nuwe fasette van onsself. Miskien bring dit bevryding van 'n swaar etiket wat jy onnodig dra, soos "Ek kan nie", "Ek is nie goed genoeg nie" of ander negatiewe gedagtes wat jy dalk koester. Dalk is jy gedurig besig om jouself of jou kinders met ander te vergelyk. Dit help niemand. Dalk kan jy dit die winter laat val.


Ek het nooit juis van die winter gehou nie. Ek verkies steeds eerder die somer. Nou weet ek egter alle tyd is kosbaar. Ek het ontdek dat winter die seisoen is waar ek skaamteloos onder 'n kombersie kan lê n lees. Ek is dankbaar oor 'n warm huis, winterkos en mense saam met wie ek binne kan lag en kuier. Dis die tyd wanneer ons vroeg kan nagklere aantrek! En vroeg slaap! In Suid Afrika is die winter gelukkig kort en verby voor ons te lui, vet en sleg kon word.


Winter is ook 'n tyd om te wag op beter dinge. Die lente kom beslis en ons kan uitsien daarna. Berei jou voor daarvoor. Troetel nou jou hakke met die Purple Posy Scrub en Body Butter Bar, terwyl jy sokkies dra. Dan is jou voete pragtig wanneer jy jou sandale aantrek.


Gooi af jou bagasie, raak ontslae van dit wat jou vreugde steel, rus soveel as wat jy kan . Kry hulp as jy moet. Dit is nie nodig om alleen swaar te kry nie. Werk nou aan die "peste" of die klein jakkalsies wat jou wingerd verniel. Die lente kom en dan moet jy vrolik kan dans tussen die pronkertjies en laventel.


"In seed time learn, in harvest time teach, in winter enjoy."  William Blake



33 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page