Augustus is planttyd!
Daar is ‘n belofte van lente en nuwe groei in die lug. Die tuin roep!
Nou is ‘n goeie tyd om jou laventel effens terug te snoei. Knip die dooie blomme en lelike takke uit om te voorkom dat dit houtagtig word. So verseker jy dat jou laventel lank mooi bly. As jou plant skade gekry het in die koue, kan jy die beskadigde dele uitsny. Wees versigtig om nie te veel weg te sny nie. Probeer om nie meer as ‘n derde van die bos af te knip nie. Laventel word nie, soos bv. ‘n roos, net kort afgesny nie.
Dit is ook nou ‘n goeie tyd om laventel te plant. Berei jou bedding voor met goeie kwaliteit organiese kompos. Jy kan ‘n bietjie beenmeel byvoeg. Maak seker dat daar ten minste vier tot ses ure son is. Laventel verkies volson. Hulle hou nie van te veel water nie. As hulle tussen jou rose staan, sal dit goed wees as jy kan toesien dat die laventel minder water as die rose kry. Blare wat geel word, is gewoonlik ‘n teken van te veel water. Hier by ons gee ons nou net een keer per week water. As dit baie warm word, vermeerder ons dit na twee keer ‘n week. Onthou laventel in ‘n pot word gouer droog en kan meer water benodig.
Vir die eerste ruk kan jy die nuwe plantjie se blomme uitknip. Dit bevorder wortelgroei en help die plant om vinnig ‘n mooi, stewige bos te word.
Geniet jou laventel! Pluk dit gereeld om vars laventelbossies oral in jou huis te sit. Dit is ‘n wonderlike stresverligter.
Daar is verskillende soorte laventelplante by Purple Posy beskikbaar. Kontak my gerus as jy plante of meer inligting benodig.
![](https://static.wixstatic.com/media/ca638f_04691e64758840acbf496ddce5c9397f~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_735,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/ca638f_04691e64758840acbf496ddce5c9397f~mv2.jpg)
Comments